Dit is nou al weer amper drie weke gelede dat ons die Simbra’s Blazing Ahead veiling in Suid Afrika bygewoon het. Ons was van die begin af betrokke en hierdie was nou die sesde veiling. Al die jare was ons baie tevrede met die veiling, maar hierdie jaar het dit swaar gegaan. Die dragtige verse is almal verkoop teen ‘n gemiddelde prys van N$ 10900.00. Die 3 in 1 koeie (dragtige koei met kalf) het verhandel teen N$ 11000.00. Die dragtige koeie is ook almal verkoop teen N$ 15900.00 gemiddeld. Die probleem het by die bulle ontstaan. Daar was geen belangstelling vir die bulle nie en daar is dus ook geen bul verkoop nie. Al die bulle sal weer terugkom Namibia toe. Om dit die moeite werd te maak (transport en permit reëlings), het ons somer nog ‘n paar verse en koeie gekoop. Ons het mos nuwe genetika nodig, nou waar die grense oop is! Al was dit nie so ‘n warm veiling nie, nogtans baie dankie aan al die kopers, ondersteuners en toeskouers!
Die Simbra’s Blazing Ahead Insentief Bonus werk goed. Die kopers is baie opgewonde daaroor en ondersteun dit sterk. Moet ons ook so iets vir Namibia tydens die Central Select veiling ontwikkel?